Quantcast
Channel: Gedigte | Maroela Media
Viewing all 691 articles
Browse latest View live

Gedig: Nadenking

$
0
0
watercolour-1833070_640

Foto: Pixabay

Elisabeth Eybers (1915-2007)

Liefde ten spyt en ondanks goeie wil
staan ek ontsteld by hierdie waarheid stil:
dat, soos geeneen wat hom nie liefhet, ék
ʼn skaduwee oor sy oop gesig kan trek.
Wat anders as méér liefde kan my leer
om daardie swart vermoë af te sweer?


Gedig: paspoort

$
0
0

echinacea-961856_640T.T. Cloete (1924 – 2015)

ek krap in jou nalatenskap rond

’n sakdoek met ’n afdruk van jou mond
jou kredietkaart

(die laaste trekking 3 Maart
toe jy by Gert se salon jou hare
laat doen   tot die dood toe was jy gesteld
op mooi lyk)

het ek oorgehou na jare

en ja jou paspoort wat nog altyd geld…

Gedig: Rooidag

$
0
0

N.P. van Wyk Louw (1906 – 1970)

Rooidag, rooidag,
wat bring jy?
Ek weet nie waarom
voel ek so bly;

my hart die klop,
en dit voel vir my,
sowaar, sowaar,
vandag kom hy.

Gedig: Gesig van die liefde (vir Jack)

$
0
0

Foto: Pixabay

Ingrid Jonker (1933 – 1965)

Jou gesig is die gesig van al die ander
voor jou en na jou en jou oë kalm soos ’n blou
daeraad wat keer op keer aanbreek
herder van die wolke
bewaker van die wit wisselende skoonheid
die landskap van jou verklaarde mond wat ek ontdek het
behou die geheim van ’n glimlag
soos klein wit dorpies anderkant die berge
en jou polse die maat van hul verrukking
daar is geen sprake van begin
daar is geen sprake van besitting
daar is geen sprake van die dood
gesig wat ek liefhet
die gesig van die liefde

 

Gedig: Ek sing van die wind wat te keer gaan

$
0
0

C. Louis Leipoldt (1880 – 1947)

Ek sing van die wind wat te keer gaan;
Ek sing van die reën wat daar val;
Ek sing van ons vaal ou Karooland;
Van blomme wat bloei by die wal;
Van water wat bruis oor die klippe;
Van duikers wat draf oor die veld;
Van voëls wat daar sing in die bossies –
Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

Vir my sing maar liewers van blomme;
Van al wat die vlei laat verkleur;
Van al wat die sonskyn laat spartel
Van voorjaar en najaar se geur;
Vir my sing maar liefs van die water;
Van duikers wat draf oor die veld;
Van rotse en branders en wolke –
Maar nooit nie, nee nooit nie van geld!

Gedig: Voortvaar

$
0
0

Petra Müller (1935-)

elke dam het sy reier,
’n witte, so wit soos jou hemp
in die skemer – nee, nie so wit nie,
jou hemp was witter, hoewel dit nou nog nie skemer
is nie, soos dit destyds was

en nog steeds is jou hemp die witste
want dit sal weer skemer word

Gedig: Sproeireën

$
0
0

Foto: Pixabay

DJ Opperman (1914 – 1985)

My nooi is in ʼn nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand… iemand in anys,
daar’s ʼn vrou in elke geur!

As ek ʼn stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met die nartjies om my heen
weet ek hoe dit ʼn vrou kan troos.

O my nooi is in ʼn nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand… iemand in anys,
daar’s ʼn vrou in elke geur!

Gedig: Huiskat

$
0
0

Foto: Pixabay

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

Die kat strek hoog op vier strak bene, buig
behaaglik om haar luiperdlies te lek,
rol om en lê fluwelig oopgevlek
dat keel en bors en buik die son kan suig.

Ons noem haar “kat” want sy is sonder siel
en anoniem. Smal skerwe van agaat
staar koud uit die driehoekige gelaat.
Arglistig, vloeibaar, soos ʼn blink reptiel

van los en lenig wees versadig: sy
sal nooit – die veearts het haar “reggemaak” –
ekstase en angs van lewe voortbring smaak,
sal, steeds eenselwig, alle teerheid stuit.
Ek hol my hand behoedsaam, smalend sluit
sy haar oë kronkel by my greep verby.


Gedig: Binnehof

$
0
0

Foto: Pixabay

Johann de Lange

Die mos stik
sy groen batik
om die keistene
in die binnehof:
’n smarag-
groen sieraad
om die lente
aan die speld.
’n Vrou mymer
oor ’n verlore
kweperlaan
toe Vermeer-lig
die kamer
binneval,
onberaam.

Gedig: Bollewange

$
0
0

Argieffoto

Die bekende kletsrymer Hemelbesem verduidelik in sy boek, God praat Afrikaans, sy dogtertjie Halo kan gou op haar perdjie spring.

“Dis vir my so poenankies! Sy sal by ʼn winkelvenster gaan staan as sy iets sien waarvan sy hou,” skryf Hemelbesem. “Ek sal ná ʼn paar treë besef sy is nie meer by ons nie, en dan tot by haar draf. Dan sal sy met haar hand na die item wys wat sy deur die venster sien om aan te dui ek moet dit vir haar koop. As ek nie byt nie, of my uit die gesprek wil wurm, dan begin haar onderlippie bewe. Een enkele traan wat afrol oor die wang volg, en dan sal sy begin huil. Dis haar manier van kwaad raak. Waar ek vandaan kom, het ons baie woorde vir kwaad wees, of kwaad raak. Ons sal praat van ‘daai ou se plaat skroei’. Maar die een wat my dogter met haar pragtige, ronde gesiggie die beste uitbeeld, is die woord ‘bollewange’.”

Bollewange

Sy staan stil…
weg is die bons.
Voorkop verkrummel,
dit verander in ʼn frons.
Ogies kyk stip in ʼn rigting in en nattigheid
vul dit van binne.
Eers een druppel, dan sal dit later spuit!

Soveel so,
mens kan in haar oëkaste duik!
Net nugter weet wat sy sien as sy so teen daai water kyk.

Haar lippe styf teen mekaar,
dit maak ʼn halfmaan
met mondhoeke wat afslaan.
Eers saggies, dan harder, dan “whaa!”,
so kom die klank aan,

en in tussenposes is daar tyd vir asemteugies.
Geplant waar jy staan, en niks gaan jou beweeg nie,

want…

Wie’s bollewange? Bollewange?
Wie’s bollewange? Bollewange?

 

Hemelbesem se boek, God praat Afrikaans, is beskikbaar by Graffiti Boeke.
Koop die boek vir slegs R150-00*
*Prys onderhewig aan verandering

[WEN] Is jy ʼn digter?

$
0
0
digkuns_kompetisie_skootrekenaar_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

[Promosie-artikel]

“Die eik is in die akker waar dit skielik val –
diep in die somer as die laataand sonlig leen,
hop dit en rol tot in ʼn slootjie langs die wal
waar goud-gehelmde herfsbome wag op reën.”
(Uittreksel uit IL de Villiers se gedig “Bolandse eik”)

Is jou taal deel van jou trots? Geniet jy dit om met woorde te speel en dit op papier neer te pen?  Gryp dan nou daardie pen en papier of sleutelbord en vingers en wys ons jou talent.

Boekejol.pngDié jaar se BoekeJol- en FilmRolfees skop af met ʼn heerlike digkunskompetisie.

BoekeJol en Maroela Media gee aan elkeen vanaf 13 jaar oud die geleentheid om hul digvernuf met ons te deel. “In ʼn gedig kan elke individu uiting gee aan hul gevoelens, gedagtes en leefwêreld,” sê Dia van Staden, organiseerder van die BoekeJol- en FilmRolfees. Dit is die eerste kompetisie van sy soort wat aangebied sal word.

Die beoordelaarspaneel bestaan uit die bekroonde digter Bibi Slippers, Su-an Müller-Marais en Susan Lombaard.

Die wenner van die kompetisie ontvang R3 000, die persoon wat die tweede plek behaal R2 000 en die derdepryswenner ontvang R1 000. Daar is drie temas waaroor jou gedig kan handel:

  • Hier
  • Huppel en hop
  • Skokgolwe

Skryf jou gedig in! Die sluitingsdatum is Woensdag 2 Augustus 2017.

Die BoekeJol- en FilmRolfees vind vanjaar plaas van 16 tot 20 Augustus by Lynnwoodbridge in Lynnwood, Pretoria.

Gedig: Madeliefies

$
0
0

Argieffoto (Foto: Oldiefan, Pixabay)

Ingrid Jonker (1933 – 1965)

Waarom luister ons nog
na die antwoorde van die madeliefies
op die wind op die son
wat het geword van die kokkewietjies

Agter die geslote voorkop
waar miskien nog ʼn takkie tuimel
van ʼn verdrinkte lente
Agter my gesneuwelde woord
Agter ons verdeelde huis
Agter die hart gesluit teen homself
Agter draadheinings, kampe, lokasies
Agter die stilte waar onbekende tale
val soos klokke by ʼn begrafnis
Agter ons verskeurde land

sit die groen hotnotsgot van die veld
en ons hoor nog verdwaasd
klein blou Namakwaland-madeliefie
iets antwoord, iets glo, iets weet.

Gedig: Om boer te wees

$
0
0

Argieffoto (Foto: holmespj, Pixabay)

WEG Louw (1913 – 1980)

O om ʼn boer te wees wat werk
met sy hande in die son
die liewe, lange dag; om saans
moeg terug te kom
van die lande, en te slaap
tot die rooidag deur die vensters breek,
en teen die tweede hanekraai, oor die ryp,
die ploegstert vas te hou…

O om boer te wees en te werk
in God se sonskyn en reën;
om nooit te twyfel dat Hy weet
wat die beste is; om nog te glo,
as sy hart wil breek,
en voel dat hy, boer alleen,
met God kan praat, en dank
as laag-druipend daal die reën…

Gedig: Volrond nig

$
0
0

Thys van Wyngaardt (Foto: verskaf aan Maroela Media)

Een van Maroela Media se lesers, Vanessa Goosen, se pa Thys van Wyngaard is in Februarie vanjaar oorlede. “Omdat my pa sou wou hê dat ons moet lag eerder as tjank, stuur ek een van Oupa Plaas se gedigte,” skryf sy. “My pa het sy lewe lank gewoon in die omgewing van Piet Plessis (ja, die dorpie bestaan wel – gaan loer maar op jou landkaart in Noordwes, so 100 km noord van Vryburg). Hy was alombekend in die gemeenskap vir sy stories en rympies so hy was ʼn beesboer wat kon dig – raar maar waar.

“Afgesien van die gedigte wat hy self geskryf het, het al hoe meer mense hom gevra om vir hulle iets per geleentheid te skryf. Hy het as gevolg daarvan rympies gemaak vir menigte troues, verjaarsdae en reünies. Elkeen van sy rympies het sy fyn sin vir humor en sy waarnemingsvermoë bevat wat dit regtig kosbaar gemaak het vir die persone vir wie hy dit geskryf het.

“Hy het altyd gesê dat hy dadelik vergeet wat hy geskryf het wanneer ʼn gedig voltooi is. Ek moes dit dan vir hom voorlees en het hy lekker saam gelag wanneer hy dit hoor. Alhoewel my pa op 19 Februarie 2017 oorlede is, sou ek vandag enigiets doen om een van sy gedigte vir hom voor te lees om hom te hoor lag.

“As vrywaring moet ek net sê dat sover my kennis strek hierdie niggie ‘n fiktiewe karakter is…” skryf Vanessa.

Hiermee dan Oupa Plaas se gedig:

VOLROND NIG

My een nig was vol en rond,
dis van soetgoed in haar mond.
Wil nie stap, bly sit en rus,
lyk al nes die Visagies se bus.
Groot en ruim en lomp gebou,
dis van heeldag soetgoed kou.
Seuns die kyk na haar en lag,
haar twee bene dra ‘n sware vrag.
As sy loop lyk dit of sy rol,
haar ou maag is altyd vol.
Haar twee boude waai heen en weer,
dra sy kouse bly hul leer.
Haar boesem is tamaai en groot,
lyk vir my na ‘n bakoond brood.
Op hoërskool het sy vryerig geraak,
die ou gedruk, hy het gekraak.
Sy naam was glo gewillige Frik,
hy’t hom daarna onwillig geskrik.
Nou het sy besluit: Basta, ek verslank,
al vat dit my ‘n halfeeu lank.
Eet nou pomelo’s van vroeg tot laat,
eet sy kos dan raak sy kwaad.
Haar humeur was kort en kras,
maar algaande verslank haar bas.
Op ‘n dag was sy skraal en mooi,
en begin die kêrels flikkers gooi.
Onlangs het sy toe getrou,
ou Frik was die gelukkige ou.

– Thys van Wyngaardt

Gedig: Die seemeeu

$
0
0

Argieffoto (Foto: cocoparisienne, Pixabay)

Uys Krige (1910-1987)

Tussen die wit huis
en die wit huis,
teen die wit wolk,
teen die grys berg
hoog bo die see
silwer en grys
silwer en grys
van golwe aaneen
tot die verste vaal
horisonne heen,
styg en daal,
styg en daal
die wit seemeeu
aaneen
alleen…

Wat sing die see?
Wat kla die wind?
Wat roep die meeu?
Wat snik die hart
aaneen
alleen?

Die see sing,
die wind kla,
die meeu roep,
die hart snik
tussen die wit huis
en die wit huis
op die helder dag
silwer en grys,
silwer en grys;
waarheen?
waarheen
aaneen
alleen, alleen, alleen?


Gedig: Ek sal opstaan

$
0
0

Argieffoto (Foto: adege, Pixabay)

WEG Louw (1913 – 1980)

Ek sal opstaan en na my vader gaan;
opstaan uit my vodde en my vuil;
opstaan en onder die volle maan
wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil
aan sy breë skouer, en hóm saggies vra
om alles te vergeet, en te vergewe
die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
dat ek weer soos ʼn kindjie klein die lewe
vol sonskyn voel, die vreugde van my werk
in die wingerd waar pers die wswaar korrels hang;
dat ek weer voel my hande jonk en sterk,
die voorjaarskoelte saggies teen my wang –
Voorwaar, onmiddellik na my vader sal
en moet ek gaan, en aan sy voete val.

Gedig: Voël

$
0
0

Argieffoto (Foto: tpsdave, Pixabay)

WEG Louw (1913 – 1980)

ʼn Voël vlieg voor my venster verby,
ʼn naalddun lyn wat daaroor gly
en die glas in twee vlakke sny;

die wêrelde val apart en bly
elk in sy enkelheid geskei –
ek hierbinne, en daarbuite hy.

Gedig: Toemaar die donker man

$
0
0

Argieffoto (Foto: Free-Photos, Pixabay)

Ingrid Jonker (1933 – 1965)

Vir Simone

Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap ʼn ou man wat
ʼn oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en ʼn rug gebuk aan sy jare…

Wat maak hy, mammie?

Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.

Wat is sy naam, mammie?

Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet
uit die land van Vaak
Sy naam is toe maar
hy heet, my lam
Toemaar, die donker man

Mammie…

Toemaar, die donker man

Gedig: Punt

$
0
0

Argieffoto (Foto: Free-Photos, Pixabay)

Bibi Slippers

ek skryf jou af en eindig
ons verhaal met ʼn punt
agter jou naam.
finaal.

maar dis altyd so met my
as ek my weer kom kry
is daar nog twee punte by

Uit: Fotostaatmasjien (2016)
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R200-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Gedig: Röntgenfoto

$
0
0

Argieffoto (Foto: hkgoldstein0, Pixabay)

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

Bekyk haar goed – die strak gesig
wat stip sy blik na buite rig
stel mens gerus, want geen portret
vlei meer as dié van die skelet
wat alle weekheid laat verdwyn
en elke deug presies omlyn:
die oog is weifelloos, die mond
word nooit verleë of verwond;
die skouers flink, horisontaal
– jukstang van ʼn aptekerskaal –,
die hele blink struktuur van been
met weefsel skemerig daaromheen
is keurig inmekaar gepas,
en, deur die tyd onaangetas,
soos elke ware kunstenaarswerk
tot die essensie ingeperk.

Die res, wat blote bysaak is,
dryf omtrekloos deur ʼn dun mis:
die hart, met sy vertakkings, hang
dof agter traliewerk gevang;
kanale – bloed en limf en klier
en ingewande – wieg soos wier
en dié wat drif en droombeeld huis
swem wasig bo die bekkensluis
wat onintiem sy naaktheid toon
en soetheid van geslag verloën…

Al die verdriet en vreugde en vrees
was dus ʼn hersenskim gewees?

Viewing all 691 articles
Browse latest View live