Quantcast
Channel: Gedigte | Maroela Media
Viewing all 691 articles
Browse latest View live

Boek: ’n Hunkering se grein

$
0
0

Hunkering_300dpiJohann de Lange

’n Ryk geskakeerde bundel waarin dié bekroonde digter indringend fokus op temas soos, onder meer, skoonheid teenoor verval, die skoonheid in verval, die troos van die woord en die gedig, die weerloosheid van die lewe en menswees,
en die erotiek wat tog so deel vorm van elke mens. Daar is heelwat vernuwende elemente – meer waarneming, meer metafisies en fyner gedraad.

Die verse is pretensieloos en daar is geen poging om die leser te beïndruk met ’n verwikkelde verwysingswêreld nie. Eenvoud is die eerste wagwoord, en die tweede is eerlikheid. Dit is ’n bundel wat na baie kante strek, maar wat
konsekwent tot die leser spreek. Dit is ’n sensitiewe stuk werk wat vir die ware teksleser oneindige vreugde sal verskaf.

’n Uitstekende toevoeging tot die Afrikaanse digkuns.

Oor die outeur:
Johann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore. Sy debuutbundel Akwarelle van die dors (1982) is met die Ingrid Jonkerprys bekroon. Sy vierde bundel, Wordende naak, word met die Rapportprys vir Poësie bekroon in 1990. Die algebra van nood, wat in 2009 verskyn het, is in 2011 met die Hertzogprys bekroon.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke


Gedig: i sagte reën het die agtermiddag

$
0
0
Argieffoto (Foto: WDnetStudio, Pixabay)

Argieffoto (Foto: WDnetStudio, Pixabay)

Gert Vlok Nel (Geb. 1963)

i sagte reën het die agtermiddag.
ja ons almal het uitgehol, rondgedans in die.
tot Ma natuurlik gesê het kom in julle reën.
julle sal koue.

ekenAttieenPollie en Vlokkie my vertraagde.
het nie geluister vir Ma nie, ons het.
ons het bootjies gery in die sloot langs.
Vlokkie die simpel lag i i i iieeggghh die simpel ding.

in die yard kom Ma uit met die belt kamma.
ons hol in bang kamma. skielik is daar i helse.
in die straat is daar i botsing, i bakkie en i.
i sagte reën het agtermiddag.

Gedig: Teen die helling

$
0
0
Argieffoto Foto: AdinaVoicu, Pixabay

Argieffoto Foto: AdinaVoicu, Pixabay

WEG Louw (1913 – 1980)

Ons het laggend in die gras gelê
teen die helling oor die somersee;
ons was gelukkig, want ons wis
wat die lewe ons nog sou gee.

Alles was in ons verenig
in één suiwer vlam van verlange –
die sterk aarde onder ons hande,
die teer-koele wind op ons wange,

die steil swenking van seevoëls
sneeuïg soos bloeisels teen die blou…
God en mens vir één oomblik
trillend bestendig in my en jou

Gedig: Teksture van hier

$
0
0
Argieffoto (Foto: 70154, Pixabay)

Argieffoto (Foto: 70154, Pixabay)

Zandra Bezuidenhout (Geb. 1945)

My pad loop terug, altyd terug,
na die boere met die bakkies
en die velskoene,
na ‘n skuurdans en volmaan –
boerklonge en soene wat smaak na koffie
en twak deur hulle snorre
soos karoobos of hoëveldgras.

Dis genoeg om voor huis toe te kom:
manne in koöperasiehemde
met arms soos windlaaiers
wat draai as hulle praat –
en om hulle die klank van die stalle
of die walms van mos.

O, vir die stof
en die boude van boere op trekkers
wat saai by Caledon
of oes by Delmas –

vir julle kom ek altyd
terug met die grootpad
na die afdraai by Uitdraai,
duskant die dam waar die grondpad
en boorde eers was.

Interkontinentaal gesproke
is dít waar ek pas.

Gedig: Die konsertina in die nag

$
0
0
Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

CM van den Heever (1902 – 1957)

Die stroom se silwer stem die gaan verlore,
daar waar die spruit se donker waterspore
onder die sterrenag in vertes gly.
Nou leef geen plaasgeluid; net skaad’wees sprei
hul donker spokelywe langs die mure;
en groot gaan in die stilte al die ure
soos lewens in die duisternis verby.

Daar klaag eers sag, dan heimlik-mooi die hese
treurstemmetjie – verlangend soos ʼn wese
na dae lankal weg, lankal nie meer;
die tone klim en draal en val dan weer
en op hul leef herinnering en swewe na kinderjare,
na kinderjare, rykste van die lewe,
na dae lankal dood – lankal nie meer.

Nog ween die konsertinastem en bewe
die wysie, waarin verlange lewe
vol ou weemoed en herin’ringspyn.
Dit is weer stil! en in die stilte skryn
die groot verlange na die ewige sterre;
en luister! soos ʼn stemmetjie van verre
klaag die ou spruitjie in donker – en verdwyn.

Gedig: Weer eens

$
0
0
Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Antjie Krog (Geb. 1952)

ek kom weer eens nie uit met my budget nie
die suiker en die melkkoepons is op
langs my masjien lê stapels stukkende klere
spinnekoppe weef macramé teen die mure
my gesin grawe in leë koekblikke na iets om te eet
my baba het brandboudjies
my dogtertjie swere
my oudste hakkel van een of ander tekort
my man byt op sy tande
stoot die koolbredie agteruit
en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood…
hou jou by jou lees, sê ons grootste digteres
hoe die hel dóén mens dit?
ek weier om te eindig tussen wier en gras
of kinderloos met ʼn minnaar langs die see
of
met die hertzogprys in ʼn vreemde land
god- en grysverlate.

Gedig: Liewenheersbesie

$
0
0
Argieffoto (Foto: Myriams-Fotos, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Myriams-Fotos, Pixabay)

Trienke Laurie (Geb. 1946)

Ek kyk in my hand:
dis ʼn liewenheersbesie.
Ek blaas oor hom
soos God in my.
ʼn Wonderlike hand het hom gemaak
en ook vir my\en daarom kan ek vlerke kry.

Gedig: Somtotaal

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Louis Esterhuizen (Geb. 1955)

Ag, koggel jy soms nog –
Tog jammer dat ons nie jare gelede
toe ons steeds jonk en jonger was
ledemate kon kruis nie… O, nee! roep ek dan –
Waarom vra vir sóveel
minder?

Want soms kyk ek tog na foto’s van jou
toe jou oë grondig mooi, dog waaksaam
was, foto’s van jou toe jou mond huiwerig ʼn glimlag
vir die onsigbare fotograaf kon laat
gebeur. Ja, foto’s is daar wel waar jou lyf
sonbruin en letselvry
blyk te wees.

Maar nou is daar die wins van kwinkslae
om jou oë, die spoortjies van sonstreke op skrefies
bekyk (O, die sagter lig van verwonding!). Nou is daar
ʼn mond fermvry, die soenrype vrug
altoos gereed vir lag en jou oor, haarfyn op die luister
ingestel. En jou lyf, dié dra wel die tekens
van ontkomings – nouer soms, wyer
elders: Dog elkeen die merk van oorlewing, die lyf
waarmee gelewe is
vir soveel jare
plus –

Ja, dit alles. Die somtotaal van ʼn lewe
wat jou in my arms geplaas het om lief te hê
met die deurwinterde slotsom
van jare.


Gedig: Reënvrou

$
0
0
Argieffoto (Foto: jill111, Pixabay)

Argieffoto (Foto: jill111, Pixabay)

Cas Vos (Geb. 1945)

Die wind vleg jou hare
en waai jou oë skoon.

Jou geur vee oor die grond,
jy glip en gly oor klippe,
oor berge sleep jou rok se some,
jy hoor die aarde se hart sing,
wals op jou tone deur die bome,
kielie klanke uit die voëls se kele.

Jy keer jou kruike op die aarde om
en stryk die grond se plooie glad,
maak die ploegvore blinknat
vir gewasse om welig op te kom.
Jy rol spriete soos groen tapyte oop
en visse glinster waar riviere loop.

Hoe lieflik is jou voete
wat op die bergspitse dans.

Gedig: My kind

$
0
0
Argieffoto (Foto: trestletech, Pixabay)

Argieffoto (Foto: trestletech, Pixabay)

Coenie de Villiers (Geb. 1956)

My kind is die lirieke van Coenie de Villiers se lied met dieselfde naam.

Ek vertel vir jou ʼn storie
waar jy stil en droomloos dryf
in die knus en warm kamer
van jou ma se ronde lyf.

En dan, as jy gebore word,
sit ek my vinger in jou vuis;
hoor hoe jy saggies asemhaal
en ek weet jy’s eindelik tuis.

Jy’s been van my gebeente;
jou vlees is van my vlees…
En as jy ooit sou weggaan,
word ek weer oombliklik wees.
Maar nou is jy hier by my;
jy maak my wêreld heel,
en ek weet daar is ʼn hemel
bereid om jou te deel.
Al is dit net ʼn interim,
al is die tyd hóé kort,
kan ek nou met jou saamloop,
sien wie jy werklik word.

Jy’s volmaak geskep en afgerond;
gereed vir jou verblyf
met jou tien volmaakte vingers
en tone aan jou lyf.

Jou hande lyk na myne
en jou oë word ook so grys
soos my oë as ek bang word,
maar te trots om iets te wys.

Jy’s been van my gebeente;
jou vlees is van my vlees…
En as jy ooit sou weggaan,
word ek weer oombliklik wees.
Maar nou is jy hier by my;
jy maak my wêreld heel,
en ek weet daar is ʼn hemel
bereid om jou te deel.
Al is dit net ʼn interim,
al is die tyd hóé kort,
kan ek nou met jou saamloop,
sien wie jy werklik word.

Gedig: ʼn Brief van hulle vakansie

$
0
0

dandelion-431079_1920Breyten Breytenbach  (Geb. 1939)

ʼn brief van hulle vakansie
vir oubaas:

Noudat ek uitgeswel van lyf is kan ek treur
oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma,
die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my
op die knieë van hul Gij Here God lê;

noudat ek agter ʼn baard kou kan ek huil
as hulle snags my naam fluister met die ruite
donker knippende oë in die wind, oor die visolie
vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die rak

In my sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see
en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene
in ʼn kortbroek en speel krieket op die duine
en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis

want hys ʼn bokser dokter boer
ʼn kaptein en ʼn held ʼn indoena tussen grysaards –
En as die reën soos ʼn gesluierde bruid oor die see kom
word die lieflinghond (Trixie) lam;

drie dae veg die veearts en buig dan die knie
en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilrivier
die plaas van hulle jong liefde en plant die saad
ʼn soenoffer in die diep grond se skoot

want nou is hulle minnaars
stil bome in die najaar met die wind
strelende drome in die takke
onder komete leeftye lang wêrelde

My ooms sterf soos kapok in die son
hartaanval beroerte kanker en tering
en my pa word stiller en meer verskriklik
van dop tot dop

Hier waar die harde winters en nat somers
my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor
die soet hart van my moeder
my pa se stil en bitter krag

Gedig: nomadismes ( ʼn fragmentarium)

$
0
0

reed-659485_1920Breyten Breytenbach  (Geb. 1939)

 

so koester ek jou

klein maaksel woorde

in die holte van my hand

 

so is jy nog afwesig

om tot inhoud te vorm

uit ʼn binding geledinge

so sal ek oor jou blaas

totdat jy lewe asem

van dons na bons na wégland

 

koestertjie

 

Uit: die beginsel van stof

Gedig: Aardlief

$
0
0
akwarelledorsJohann de Lange, 1959

Aardlief

Eendag word ek wel weer joune, oerbeminde:
word my hande & my oë jóú hande & jóú oë,
gee ek die handvol geleende stof aan jou terug,
ou selfsugtig, word ek joune van kop tot tone.

Uit: Akwarelle van die dors, 1982

Gedig: Eerste risky liefdesliedjie

$
0
0
letters-1688641_1920Marlene van Niekerk (Geb. 1954)

 

As ek weer in jou oepsedaisynooitgesien

in jou spinnaker mag kom

dan seblieftog langsamer

soos ‘n nagpouoog in ‘n varkoorblom.

As ek weer met regterhand

jou mag hangmaak oor my hoegenoem

dan soos ‘n melodiedeken

oor basakkoorde dondergroen.

As ek om mani padme ha en hum,

wil jy oorstag my skilpad strum

dan soos ‘n striddelkriek verskole

in die maansverduistering.

 

Uittreksel uit: Eerste risky liefdesliedjie van Marlene van Niekerk

Gedig: Dank

$
0
0

flower-1399061_1280DJ Opperman (1914-1985)

Ek bring aan jou die eerste vrugte van die land
met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:
ʼn mieliekop, lemoen of roos op skurwe land
gedra as nuwe huldes van seisoen en tyd;
jaarliks die eerste piesangtros uit die vallei
waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel
sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my
en val die geil reëns van die berge sonder doel.


Gedig: Brief huis toe

$
0
0

shutterstock_57533998Brief huis toe, Gander-lughawe, 1949

Barend J. Toerien (1921-2009)

My liefste, my naaste, my dierbaarste vir my,
hoe goed as ek altyd en nou by jou kan wees,
dog toeval en inval verlei my, skei my
steeds verder en verder van jou en jou son.
Onthou my en altyd onthou ook dat waar jy
soggens uitvee of knie of kniel by ʼn roos,
by ʼn broeis hen, die leivoor of saans by jou bed
doodmoeg en soms twyfel oor die nut en waarom,
ek ken al jou dierbare gebare is naby.

Gedig: (Edms. Bpk.)

$
0
0

children-1731738_1280Wilhelm Jordaan

Kom ons stig ʼn maatskappy
(ek en jy) een
sonder winsmotief
besit ons niks.
Hê mekaar
net lief.

Hierdie gedig van Wilhelm Jordaan is maar net een van die vele mooi gedigte in Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Dit is ’n versamelbundel van die gewildste en bekendste liefdesgedigte in Afrikaans wat vroeg verlede jaar uitgegee is en elke dag relevant is.

die-heel-mooiste-liefdesgedigte-omslag“Wie kan my sê van die liefde? Waaraan sal ek hom herken?” sing Coenie de Villiers in “Die Liefde”.

Hierdie bundel bevat nie slegs gedigte uit die kanon nie, maar ook verse wat sedert 2010 verskyn het. Die digters in Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte sluit in: Boerneef, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, Ingrid Jonker, Breyten Breytenbach, Antjie Krog, Lina Spies, Wilma Stockenström, T.T. Cloete, Daniel Hugo en Philip de Vos. ’n Toeganklike bundel, perfek vir om die liefde te besing.

Uitgewer: Human & Rousseau

Oor die samesteller

Fanie Olivier is in 1949 in Pretoria gebore. Hy verwerf ’n MA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch (1972), die graad LittDrs in Literatuurteorie aan die Universiteit van Utrecht en die graad DLitt aan die Universiteit van Potchefstroom. Hy is professor in Afrikaans aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole.

 

 

Gedig: die herfshuis

$
0
0

autumn-205588_1280Carina Stander

langs die pad
na ons huis
is die bome vanaand
groen vuurhoutjies –
skaterend en krom
soos vroue wat vuurhout
versamel op die rug

bobbejane roep skor
in die verte na mekaar;
die rondlopervos huil hetig
op ʼn klip sonder verstand;
die klipspringer gaan verby, vlugtend
beurend teen die wind, die wind

jy hardloop teen die heuwel af
met arms vol sekelgras
agter jou rug

die wind kam deur jou krulle
jou hare vlam in die sakkende son
vanaand besit ons ‘n kombuistafel
‘n ketel, vier wolfhonde met name
soos Storm en Skemer
buite ons huis
blom die papierdoringboom –
die gom van die wonde
op haar stam is eetbaar,
ons proe haar peule
in die melkkoei se room

vanaand dra ek ʼn blonde rok
langs die pootjiesbad
steek ons twee kerse op
en was mekaar se hare

in die wasem teen die ruit
skets ons by herhaling
die herfstige gloed
van ons asemhaling

Uit haar digbundel, die vloedbos sal weer vlieg, Tafelberg, 2006.

Gedig: Dat alle liefde

$
0
0

dandelion-445228_1280N.P van Wyk Louw (1906 – 1970)

Dat alle liefde moet verlore gaan
en wegwaai in die wye lug,
waar hierdie dooie ster sy norse vlug
neem deur die stiltes van sy baan –

dit is die vrees, dit is die eensaamheid
wat my, geboë, met die hande krom
rondom die kersie van ons liefde, stom
laat skuil in kleinlike verlatenheid.

Gedig: Die more is jy

$
0
0

rose-1768817_640(Ingrid Jonker 1933-1965)

Die lug is vol rose
die rose is weerloos
weerloos jou hande jou oë
roos van jou mond
die more is jy
weerlose roos van die more
wond van die rose

Viewing all 691 articles
Browse latest View live