Quantcast
Channel: Gedigte | Maroela Media
Viewing all 691 articles
Browse latest View live

Gedig: Sê nou

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

AG Visser (1878–1929)

Sê-nou is ‘n lekker sê:
Alles wat ‘n mens wil hê,
alles wat jou hart begeer,
kry jy daarmee en nog meer.
Nooit kan jou die tyd verveel
as jy altyd sê-nou speel.
sê-nou, sê ek aan my maat
toe ons saam loop langs die straat,
sê, byvoorbeeld, elke iets
van ‘n motor tot ‘n fiets,
perdekar of ossewa,
ryperd wat sy ruiter dra –
alles waarop mense ry,
kom onsigbaar hier verby,
net die mense – wat ‘n klug! –
trek dan sit-sit deur die lug,
ooms te perd met lange baard
wip-wip luglangs doodbedaard;
snaaks sou wees die trem-wa daar,
twee verdiepings op mekaar;
maar die baie-sukkel trap
lyk my nog die grootste grap
as jy net die fietser sien
maar geen spoor van sy masjien!
Sê-nou, antwoord toe my maat,
jy hou op met onsin praat;
jy moet na die dokter gaan
met jou kop: daar skeel iets aan:
Sulke mal gedagtes kry
kom van mallemole ry!


Gedig: Stil aand

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

WEG Louw (1913 – 1980)

Vanaand het ek weer so verlang,
in grondelose vrees
van eie gryse eensaamheid,
dat jy by my moet wees,

dat ek die wye koeltes van
jou stem om my kan voel,
soos die rimp’ling van die somerreën
vervlugtig oor my spoel.

En toe ek deur die duister wind
wat oor my huisie waai,
die knip hoor lig, het heel my hart
in vreugde opgelaai…

Nou sit ons voor die vuur en speel
die vlamlig deur ons hare…
Laag waai die reënwind buite deur
die afgevalle blare.

Gedig: Ek het ‘n huisie aan die rand

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Pirow Bekker (1935)

Ek het ‘n huisie aan die Rand. Dis nag.
Ek het my huisie tweemanhoog ommuur;
‘n draad gespan; ‘n kopbeen sê: Bly weg!
Dit is ‘n fort waar ek my saans verskans.

Daarbuite hoor ek mense hardloop, skote knal,
deure klap, rubberbande snerp op teer.
Dan stilte. Daarbuite hoor ek ruite val
(of is dit binne waar diefwering makeer?).

Ek het ‘n huisie aan die Rand. Dis nag.
My huis, my paradys, bly lekker onversteur.
Kyk hoe blink die koppe aan my draad:
tot hier dring niemand, maar niemand deur.

Ek het ‘n huisie aan die Rand. Dis nag.
Die alarm by die Trellidor hou knipoog wag.

Gedig: Digteres as huisvrou

$
0
0
Argieffoto (Foto: terimakasih0, Pixabay)

Argieffoto (Foto: terimakasih0, Pixabay)

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

Altyd ʼn besem iewers teen ʼn muur,
maaltye nooit op die gepaste uur.

Agendalose dae waardeur sy leeg,
hardnekkig en skaars doelbewus beweeg.

Strykgoed wat moedeloos oor ʼn stoelrug hang,
gebare sonder afloop en aanvang.

Ou briewe onbeantwoord, deurmekaar
papiere en pille in één laai opgegaar.

Dankbaar om haar in jou groot hart te strek
en tog verknog aan haar klein skulpomtrek.

O ordenende teëvoeter, wees
gewaarsku, stuur haar liewer na haar lees.

Gedig: Liefdesbrief

$
0
0
Argieffoto (Foto: kaboompics, Pixabay)

Argieffoto (Foto: kaboompics, Pixabay)

Riana Scheepers (Geb. 1957)

Liefste,
ek lees liefdesgedigte
die wêreld se heel mooistes

In al die tale wat ek ken, lees ek
en dis pragtig
die lofliedere aan die liefde
die odes aan die geliefde

Alles goed en wel, dié ontroerende verhale
maar my moed sak weg, Lief,
want nie een, nie één
sê iets
net náástenby iets
van jou
van jou en my

Wat sál hulle kan sê
– die Groot Digters
wat smagtend by kerslig
met beeld en rym
die liefde besing –
as hulle jou sien?
Sal hulle iets kan bedink
om te beskryf hoe oorweldigend jy is
ken hulle woorde wat kan sê
van jou
van jou en my?

Nie een, Lief,
nie één
kan vertel
hoe die woestyne van my land
brand in jou oë;
watter taal se woordeskat is goed genoeg
om te kan sê
van jou harde, lieflike lyf
die jare se son soet op jou vel gebrand
van jou asem in my hare
jou swerwershande
wat my, mý die mooiste vrou
van alle eeue maak?

Watter digter kan ek vertrou
om te skryf
oor jou
oor jou en my?

Ek.
Ek wat my taal ken
en dit liefhet soos vir jou,
ek wat weet van beelding en metafoor
en pragtige poësie
ek wat weet
van jou
van jou en my,
ek kan.

En ek kan nie.

Gedig: Kindertuin

$
0
0
Argieffoto (Foto: benscherjon, Pixabay)

Argieffoto (Foto: benscherjon, Pixabay)

Zandra Bezuidenhout (Geb. 1945)

Uit: Briewe aan my moeder

ek was ʼn kind van twee
toe jy my leer hoe name trommel
teen die binne-oor
vi-ool-tjie py-pie bot-ter-blom
het jy geklank
kal-koen-tjie bob-be-jaan-tjie
met die tong gedoop
jy wou dat ek die woorde proe
geluid van gousblom ken
wat opslaan in September

terwyl jy buk en pluk
het ek die bossie vasgehou
gedink dat blomme orals was
soos gras en wind
jy’t van die veld vertel
kransies uit jou kindertyd gevleg
en om my nek gehang vir later
gewys hoe mens die sterre
aan jou polse bind

jy het die taal in blom
help bêre op my tong
sodat ek sou onthou
tjien-ke-rien-tjee se oog is swart
of lente is ʼn liggeel suringlap
varklelies staan in room en groen –
poeierwysters van die ver verlang
na ma’s wat afbuk in die son

Gedig: Vuurbees

$
0
0
Argieffoto (Foto: hbieser, Pixabay)

Argieffoto (Foto: hbieser, Pixabay)

DJ Opperman (1914-1985)

Die buffel ken geen metafisika:
hy soek die soetgras
en die kuil,
hy sal die kalf karnuffel,
horings in sy vyand gra,
die koei besnuffel,
teen hael gaan skuil,
maar geen vrae oor môre vra –
die buffel ken geen metafisika.

Alleen die mens
tref in sy swerwe
tussen hede, toekoms en verlede
die spleet tot grotte
van die rede:
hy maak ʼn mes,
ʼn vuur,
skep gode,
dink aan sterf,
prewel gebede
en moet beswerend teen ʼn muur
van sy spelonk die buffel verf:

die buffel van die metafisika:
die vuurbees in homself
volg, buig of bars,
enduit sy drif en drome na,
en prikkels van die brein
word piramides, Laaste Avondmaal,
wiel, chroom,
projektiele, produkte van atoom,
et cetera.

En voor sy besete blik
besef die enkeling
ontsteld
hy sal ook nie terugskrik
vir die alles-uitwissende slagveld –
stukkend lê alreeds
die Parthenon en Hirosjima
in die bose skoonheid van geweld.
Die buffel geen metafisika.

Gedig: Vrugte-ontbyt vir ʼn beminde

$
0
0
Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

George Weideman (1947–2008)

Soggens vroeg bring ek vir jou
vrugte uit die paradys: braam
en pruimedant, persswart en stroopsag;
druif en adamsvy, bloupers, bekwaam.

Ons smul aan uitgeswelde vye
en proe die roekelose geilte
van papaja en tamatiepruim;
en as jy in die appel byt,

word jou wange soos nektariens,
jou tong se punt koejawelrooi
en jou oë laat aan korente dink.

Ek kwetter soos ʼn muisvoël, ek flikflooi
voor ek die turksvye vlek:

Jy sê nie pruim nie, maar jou oë sein
beloftes solank jou lippe tydsaam
om vuurrooi kersies vou; lietsjies
laat jou stuitig lag en selfgenoegsaam
strek jy agteroor en begin siel en meer uittrek.


Gedig: Die vrou

$
0
0
Sout en peper (Foto: Maroela Media)

Sout en peper (Foto: Maroela Media)

AG Visser (1878 – 1929)

Die vrou is die sout van die aarde,
Die suurdeeg, beskou op die keper:
Al hoër steeds rys sy in waarde:
Sy’s beide die sout en … die peper!

Wie ter wêreld verstaan ooit die vrou,
En wie sal haar geheimenis weet?
Haar verjaarsdae moet jy onthou,
Maar haar ouderdom moet jy vergeet!

Gedig: Die beiteltjie

$
0
0
Argieffoto (Foto: Ruins, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Ruins, Pixabay)

NP Van Wyk Louw (1906 – 1970)

Ek kry ‘n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.

Ek sit ‘n klippie op ‘n rots:
– mens moet jou vergewis:
‘n beitel moet kan klip breek
as hy ‘n beitel is –

ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
so skoon soos langs ‘n voeg:

toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,

die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe –
só moet ‘n beitel slaan
wat beitel is, of hoé?

Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see

en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met ‘n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.

Gedig: Vandag sweer ek jou af

$
0
0
Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Stephan Bouwer (1948 – 1999)

Vandag sweer ek jou af:
dié sekere hand met sy potlood
verlig my van geen liefdesvers
maar laat bloed
vir die groot gesondword.
jou breë lag gaan my nooit weer kortasem maak nie
oordat dit te lig in die broek geword het
elke kopknik en knipoog
gaan my voortaan koudlaat
jou bene & borskas gaan geweeg
en te lig bevind word
ja selfs die trek van jou mondhoeke
sal op dowe ore val.
ek lê jou af en word die kamera
wat jy altyd van my wou maak.
jou nabootsings van die liefde
word ervaar as
naby- medium- maar veral veropnames
en in die redigeerkamers van my kop word bevind
dat jou spel die paal nie haal nie.
as jy dus weer aan my deur kom klop
sal jy verneem
dat Gebroke Hart Edms Bpk
– wagtend op ʼn nuwe liefdesubsidie –
gesluit het tot latere kennisgewing.

Gedig: Resep

$
0
0
Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Patrick Petersen (1951 – 1997)

die resep
wat’s dit
die draadloos praat so baie oor potjie
ma wat’s dit
dis nou vleis wat gekook is
in die pot met visolie en hiesô is
ʼn boontjie dis wortel dies kool darie is
petats wat mens soetpetat van maak

ma ons is die koks:
die wat hout loop haal
loop haal hout
die wat dunhoutjies kap
kap dunhoutjies
die wat vuur aansteek
steek vuur aan
die wat attepils skil
skil attepils
die wat boontjies skil
skil boontjies
die wat worrels skil
skil worrels
die wat vleis opsit
sit vleis op
die wat rys opsit
sit rys op
en die wat in die pot loer
loer met ʼn hoop kers doer in

en voor ma nou gaan skep
voor oorle pa se bedankgebed
trek ene gou-gou die tafel aan
dis nou ma onse resep

Gedig: Gesig van die liefde

$
0
0
Argieffoto (Foto; georgigggg, Pixabay)

Argieffoto (Foto; georgigggg, Pixabay)

Ingrid Jonker (1933 – 1965)

Vir Jack

Jou gesig is die gesig van al die ander
voor jou en na jou en jou oë kalm soos ʼn blou
daeraad wat keer op keer aanbreek
herder van die wolke
bewaker van die wit wisselende skoonheid
die landskap van jou verklaarde mond wat ek ontdek het
behou die geheim van ʼn glimlag
soos klein wit dorpies anderkant die berge
en jou polse die maat van hul verrukking
daar is geen sprake van begin
daar is geen sprake van besitting
daar is geen sprake van die dood
gesig wat ek liefhet
die gesig van liefde

Uit: Versamelde Werke
Uitgewer: Human & Rousseau. 1994.

Gedig: Ek sal opstaan

$
0
0
Argieffoto (Foto: chin1031, Pixabay)

Argieffoto (Foto: chin1031, Pixabay)

WEG Louw (1913 – 1980)

ek sal opstaan en na my vader gaan;
opstaan uit my vodde en my vuil;
opstaan en onder die volle maan
wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil
aan sy breë skouer, en hóm saggies vra
om alles te vergeet, en te vergewe
die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
dat ek weer soos ʼn kindjie klein die lewe
vol sonskyn voel, die vreugde van my werk
in die wingerd waar pers die swaar korrels hang;
dat ek weer voel my hande jonk en sterk,
die voorjaarskoelte saggies teen my wang –
Voorwaar, onmiddellik na my vader sal
en moet ek gaan, en aan sy voete val.

Digbundel: In die grot van die sibille

$
0
0
In die grot van die sibille

Juanita Louw

“Die digter se taak is om die verborge te ontbloot. Elke gedig is ’n uiting van die sibille.” Dié woorde van Sowjet-digter Marina Tswetajewa eggo in Juanita Louw se debuutbundel, In die grot van die sibille, waar digkuns gelykgestel word aan die magiese woord wat deur die mitologiese profetes in haar grot gespreek is.

Die leser gaan as’t ware die trapesoïdale ingang van die grot binne waar klankryke, evokatiewe verse met droomagtige, eksotiese beelde die menslike kondisie belig.

Louw werk met fassinerende stof uit ander kulture wat selde in Afrikaanse digkuns op hierdie prikkelende, meevoerende manier ontgin word. Die bundel word verryk deur ’n uitgebreide verwysingsveld, insluitende fabels, mitologie, kuns, literatuur, films, musiek en natuurlik digkuns – produkte van die mistieke skeppingsdrang.

Oor die skrywer:
Juanita Louw voltooi haar meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns in 2014 aan die Universiteit van Kaapstad. Voorheen werk sy vir geruime tyd in ’n hospitaal in Londen se Ooseinde. Deur die jare werk sy ook met antieke juweliersware en gee Engelse klasse aan buitelanders. Sy is gebore in die Vrystaat en bestuur tans ʼn sielkunde-praktyk in Kaapstad.

Uitgewer: Queillerie
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke


Gedig: Spook

$
0
0
Argieffoto (Foto: maggyona, Pixabay)

Argieffoto (Foto: maggyona, Pixabay)

Juanita Louw

My hart spook:
vloere kraak
en deure waai
oop en toe,
iemand loop
heen en weer
op die solder.
Ornamente val
van rakke af,
uit die kelder
kom klanke
soos kettings
wat sleep.
Heelnag weeklaag
iets uit die mure.
Stof vergader
in hoeke,
spinnerakke string
van die dak
en kandelare.
Ek bedek
al die meubels
met lakens.
My hart spook
vir jare al
en die poltergees
se geklop
klink nes jy.

Uit: In die grot van die sibille
Deur: Juanita Louw
Uitgewer: Queillerie
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Gedig: Die huis van my vader

$
0
0
Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Johan Hambidge (1956)

In my pa se studeerkamer
staan daar ’n ensiklopedie
van A tot Z, ’n Webster
met ’n indeks vir my
kindervingers. Veral
reptiele en dinosourusse
in kleur afgedruk kon ure lank
my verbeelding aanvuur.
Daar was vele boeke, ja,
sommige ongelees, ander vol
notas en selfs ’n briefie van sý pa,
my Dowe Oupa Frank,
wat waarsku: die lewe
skuld jou niks . . .
Met hierdie skuldlas leef ek
al bykans ses dekades lank:
For poetry makes nothing happen,
daardie motto uit Auden,
dikwels verkeerd aangehaal
en meestal misverstaan.
My pa, my ou Dad,
hoe swaar dra ek nie
aan verlange en verdriet?
My pa, my ou Dad,
was alles dan so verniet?

Uit: Indeks deur Joan Hambige
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

Gedig: Muskietejag

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

deur A.D. Keet

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net ʼn bloedkol bly
Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plaery
Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry –
My naam is Van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie kieskeurig nie,
Jy moet tog ééndag sterwe.

Verwekker van malaria
Sing maar jou laaste aria –
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nóg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie…

Hoe sedig sit hy, o, die kring!
Sy kinders kan maar kranse bring,
Nóú gaan die vabond sterwe…
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dóód sal hy, sowaar ek sweer –
My naam is Van der Merwe!

Gedig: Blink Stefaans

$
0
0
Argieffoto (Foto: Monikaa123, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Monikaa123, Pixabay)

Johann de Lange

’n Haan soos Blink Stefaans
se skop trek bloed, hy skrop & heers oor gans die werf.
Hy laat die ander hane eierdans.
Met die son bo die oker bakkrans
trap sy geel geskubde pote elke lê-hen op die werf.
’n Haan soos Blink Stefaans
kloek op die perdestal se onderdeur, sý toringtrans,
loods ’n klaroengeskal wat oor sy domein wegsterf.
Hy laat die ander hane eierdans.
Sy bloedrooi kam & lelle, die kobaltglans
van sy stertvere, & sy strooiblonde kraag is oorgeërf.
’n Haan soos Blink Stefaans
vlam sweisblou & bronsgroen in die oggendglans;
sy kraai, soos ystergoed, kerf tot in die dag se nerf.
Hy laat die ander hane eierdans.
Blink Stefaans, is dit jý wat so hans
die dagbreek keelaf sny & die ouwerf verf?
’n Haan soos Blink Stefaans
laat die ander hoenderhane eierdans.

Uit: ’n Hunkering se grein
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Boek: By die nag se wit kant in

$
0
0

By-die-nag-se-wit-kant-in-voorbladEtienne Terblanche

In hierdie debuutbundel kom ’n groot verskeidenheid onderwerpe, versvorme, emosies en toonaarde aan die bod. Die digter maak soms ook van spesifieke variante van Afrikaans gebruik: streektaal, akademiese taal en wetenskaplike taal.

Die digter skryf oor die Suid-Afrikaanse werklikheid, die natuur en wildernisgebiede waar hy ontspan en na voëls en skoenlappers kyk, ook na die werklikheid van sy werksomgewing op Potchefstroom en plekke soos Indië waar hy gereis het. Hy slaag daarin om sulke bekende onderwerpe in die digkuns soos die liefde en vriendskaps- en familie-verhoudinge op ’n nuwe, speelse en soms ook diepsinnige wyse te verwoord.

’n Treffende voorbeeld is “Die digter sing vir sy beminde” waar die konkrete, bekende wêreld omtower word: die geliefdes vlieg weg van die alledaagse, deur die deur van die maan en saam weer oor die kombuis tot in ’n nuwe land. Maar vir hierdie digter klink liefdesmusiek ook in die Bosveld en die rooigras van die Vrystaat op.

Daar is ook pragtige gedigte oor sy ouma en haar unieke wyse van praat, die platteland en sy mense en ook meer eksotiese plekke soos Moembaai en Stockholm. Die akademiese wêreld en die literatuur kom ook in die bundel ter sprake.

Oor die outeur

Etienne Terblanche is ’n professor in Engelse Letterkunde aan die NWU se Potchefstroomkampus. Hy het reeds akademiese publikasies agter sy naam, maar By die nag se wit kant in is sy eerste digbundel.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R160.00*
*Prys onderhewig aan verandering

Viewing all 691 articles
Browse latest View live