Quantcast
Channel: Gedigte | Maroela Media
Viewing all 691 articles
Browse latest View live

Gedig: Gesprek met ʼn olyfboom

$
0
0

Argieffoto (Foto: makamuki0, Pixabay)

Freda Plekker (1927 – 1973)

Jerusalem 1966

In wasgoedtaal gesels die wind
oor balkonne
blind
en wimperloos
wat oor die Negev staar
en twintig eeue ween en klae
deur smal skagte
oor die mea culpa mea culpa
wat hulle dra

kringvormig
ʼn viëtnamese sirkeldig
bid Chagall se brandglasvensters
die gryswit stad
uit gryswit steen
tot feller lig

bondels olywe groet my
met ʼn shabat shalom
een
met ʼn duisend jare
om haar hoof
soos ʼn duisend blare

het my in gedempte groen gevra
wat in die albasterkruike
van my oë was
ek antwoord:
dis die wêreld wat ek dra
dis mea culpa mea culpa maxima.


Gedigte in McGregor-naweek: Hartsgebonde

$
0
0

Alle paaie lei binnekort weer na die mooie plattelandse dorpie McGregor, vir alle liefhebbers van die woordkuns. Die vyfde jaarlikse Gedigte in McGregor naweek vind vanjaar vanaf 25 – 27 Augustus plaas. Vanjaar is daar meer as 90 aanbiedinge en die program sorg vir ʼn heerlike mengelmoes van bekende, asook nuwe, vars jong stemme in Afrikaans en Engels.

Digters wat van hul werke gaan deel sluit Ashley Dowds, Pieter Fourie, Johan Myburg, Nic de Jager, Kobus Moolman, Lungiswa Nyatyowa, Lerato Sibanda, Philip de Vos, Diana Ferrus, Lara Kirsten, Fanie Olivier, Koos van der Merwe, Mavis Vermaak, Wendy Woodward, Hermien de Vos en vele meer in. Klik hier vir ʼn volledige lys van al die betrokke digters.

In ʼn variasie op die bekroonde RSG Kunstefees-produksie DIE WOORDKETTING, bring Ilse Salzwedel en twee van die gereelde Woordketting-deelnemers, Diana Ferrus en Philip de Vos, hierdie heerlike woordspel ook na McGregor. Johan Myburg en Nic de Jager sluit by hulle aan. Jy sal hierna beslis met ander oë na ʼn gedig kyk!

Billy Kennedy, eienaar van Temenos en stigter van die Gedigte in McGregor naweek sê dat gedigte ʼn belangrike rol in ons lewens speel: “Ek glo dit is so noodsaaklik soos vars lug. Iemand het eens geskryf dat baie van die geweld en sielkundige probleme in ons samelewing waarskynlik te danke is aan die gebrek aan poësie. Bevooroordeling is altyd eensydig. Poësie maak gedagtes oop. Poësie is uitdagend; dit kan ons hervorm en herskep. Dit gee ons dieper insig en bewustheid van mekaar en hoe ons almal in gees verbind is. Dit doen vir die gees wat joga vir die liggaam doen.”

Kennedy sê dit was ʼn maklike taak om ʼn tema vir vanjaar se Gedigte in McGregor-naweek te kies: ‘Hartsgebonde’. Hy sê: “Baie van wat ons die afgelope paar jaar as ʼn komitee uitgerig het, met die hulp van die wonderlike digters wat ons van die begin af ondersteun het, is uit die hart gebore. Ons het nou NWO status en al ons fondse word eerstens aangewend om Gedigte in McGregor te laat groei, maar ook om verskeie gemeenskapsprojekte in McGregor te ondersteun. Gedigte in McGregor verwelkom nie net bekroonde en gepubliseerde digters nie, maar ook jong, onontdekte talent.”

McGregor is die perfekte dorpie vir die viering van digkuns. Die lokale is loopafstand van mekaar en die plattelandse sjarme van die dorp dra by tot ʼn unieke ervaring.

As deel van die Gedigte in McGregor-naweek, gaan die MAC-projek ook ʼn spesiale skoledag-program op Vrydag 25 Augustus aanbied. Meer as 800 leerlinge van verskeie skole in die omgewing sal die geleentheid bywoon. Die Kaapse kunstenaar Ha Man! sal saam met Joke Debaere ʼn konsert van musiek, drama en gedigte aanbied. Die Afrikaanse groep Ruk! gaan ook deur die loop van die oggend optree.

Gedigte-kompetisie: Ons het verlede jaar inskrywings van oor die hele land ontvang en ons nooi jul weer uit om vir vanjaar se Gedigte-kompetisie in te skryf. Hierdie jaar se tema is “Poësie as hartskos.” Alle inskrywings moet hierdie tema reflekteer. Die kompetisie is oop vir ongepubliseerde digters en daar is twee kategorieë:
Oop kategorie vir volwassenes: Die prysgeld vir die wenner is R5 000.00
Skole-kategorie (oop vir leerders graad 7 tot 12): die wenner kry ʼn splinternuwe iPad.

Inskrywings kan per e-pos gestuur word na: mcgpoets@gmail.com voor 10 Augustus 2017. Vir meer inligting en reëls gaan na www.poetryinmcgregor.co.za

Daar is ook vanjaar weer ʼn aanbieding van die ‘Oop Mikrofoon’-sessies. Hierdie sessies word gelei deur Hugh Hodge. Enige iemand wat graag sy/haar gedigte wil voordra is welkom. Almal is welkom om dit by te woon. Geen kaartjies of besprekings is nodig vir die “Oop Mikrofoon” sessies nie.

Akkommodasie: Bespreek vroegtydig by een van die volgende nommers:
Temenos Retreat: www.temenos.org.za / temenos@lando.co.za / 023 625 1871
McGregor Country Getaways: www.mcgregor-accommodation.co.za / info@mcgregor-accommodation.co.za / 023 625 1409 / 076 411 9477
McGregor Toerisme kantoor: www.tourismmcgregor.co.za / info@tourismmcgregor.co.za / 023 625 1954
McGregor Backpackers: www.mcgregorbackpackers.co.za /083 206 8007
Robertson Toerisme kantoor: www.robertsontourism.co.za / info@robertson.org.za / 023 626 4437
Robertson Wyn Vallei: www.robertsonwinevalley.com / manager@robertsonwinevalley.com / 023 626 3167

Kaartjies beskikbaar by Computicket. Sien die program hier.

Besoek die webwerf
Sluit aan by die Facebook-blad
Volg die fees op Twitter

Gedig: Landskap

$
0
0

Argieffoto (Foto: tpsdave, Pixabay)

Donald W. Riekert (1947-2001)

Die landskap afgebeeld
weier om gelees te word.

Al is elke kontoer
uitgeskryf in die verweerde bolaag
van retina en senuwee
vir die lewenslange strompeltog –
halfblind, halfdol om klinker en konsonant,
wéét jy:
vanuit die oog rol beelde na die horison
waar die ligvlak ingenaat by strome
die geheue deurspoel.

Ook dié oog slyt mettertyd tot sand;
ʼn uitgedroogde rivier wat terugkrimp
na sy bron –

verborge sediment vir dooie grond.

Gedig: My huis

$
0
0

Argieffoto (Foto: Joachim_Marian_Winkler, Pixabay)

Coenie de Villiers (Geb. 1956)

My hart is soos ʼn huis
wat gebou is op ʼn rots
wat uitkyk oor die see
bo die water se geklots.

Hy’s gepantser teen winde
wat aanstoot teen die kus.
Hy beskut sy kamers binne,
word ʼn skuiling om in te rus.

Mense woon daar in my huis –
ʼn pa, ʼn ma en ʼn kind.
Hulle kyk deur die huis se vensters,
word deur son op die see verblind.

Hulle kom en gaan soos mense maak.
Die huis word soms verwaarloos –
dan maak ek flink die luike oop,
al bied dit weinig troos.

Die mense in my huis is soms
selfs argeloos en tog,
is ek bly hulle’s hier, want op ʼn manier
is ek aan elke een verknog.

Hulle leef in die kamers van my huis;
eet die kos wat ek daagliks berei,
Die jaar draai stadig op sy rug
en dan’s die seisoen verby.

Hulle pak hul koffers en tasse
en verlaat die huis een-een
toe staan die kamers skielik leeg
en woon ek weer alleen.

Uit: Hartlangs – Lirieke 1973 – 2012 deur Coenie de Villiers

BoekeJol 2017 sorg vir reuse verskeidenheid

$
0
0

Boekejol.png[promosie-artikel]

Dit is hierdie jaar reeds die derde BoekeJol- en FilmRolfees wat aangebied word.  Dit gaan werklikwaar ʼn fees van lees, luister, debatteer en kuier wees.  Die BoekeJol- en FilmRolfees vind vanjaar van 16 tot 20 Augustus plaas by Lynnwood Bridge in Lynnwood, Pretoria.

Dia van Staden, eienaar van Milestone Events & Training, oud-onderwyseres, lewensvaardigheidspesialis, televisie-aanbieder, radiopersoonlikheid en joernalis, het dié inisiatief in Pretoria kom vestig. “Die derde BoekeJol is gepak met hoogtepunte wat jou Kort-Kort na jou leesbril wil laat gryp. Neem deel. Wees deel. Kom deel jou liefde vir boeke, skrywers, musiek en allerhande mannewales. Dankie aan elke vrywilliger wat hul hande opsteek om Kort-Kort behulpsaam te wees,” vertel sy.

BoekeJol 2017 se feespromgram is bekendgestel met ’n feestelike samekoms wat afgeskop het by Jenna Clifford in Lynnwood Bridge, en daarna is daar heerlik by Citidel gekuier en saamgesels oor die program.

Dié jaar se gewigtige program beloof om alle verwagtinge te oorskry.  Van “wynproe sonder naam”, digitale fotovertonings, gespreksforums, boekbesprekings tot musikale uitvoerings is hierdie jaar op die program.

Kom ontmoet skrywers soos Elsa Winckler, Sophia Kapp, Corlia Fourie, Wilna Adriaanse, Leon van Nierop, Piet Matipa, Fanie Viljoen, die nuwe jeugsskrywer, Adriaan Blom, en nog vele meer.

Daar is ook geleenthede in die Atterbury Teater waar sanger-skrywer-kombinasies ingesluit word.  Kevin Leo gaan op reis saam met Dana Snyman en Erns Grundling.  Jak de Priester bring hulde aan PG du Plessis.  Hulde word ook op ʼn baie besondere wyse aan André P Brink gebring.  Verder tree die Affies Swing Ensamble op, en kan Coenie de Villiers, Hemelbesem, Brandon October en Pops Mohamed saam gesien word.

Sake van die dag en kontroversiële onderwerpe wat almal raak, word nie afgeskeep nie. Onder meer politiek, arbeidskwessies, besigheidsaspekte en fopnuus word bespreek.  Hier aan die woord is onder andere Tim du Plessis, Susan Lombaard,  Gideon du Plessis, Willie Spies, Lerato Tshabalala en nog vele meer.  Kom ontmoet ook vir Helen Zille.

Daar is werklik iets vir almal: van hekel saam met Karen Adendorf tot ʼn digkunsmarathon saam met Bibi Slippers; van ’n radiodramaslypskool en ’n omroeperswerkswinkel tot by kosdemonstrasies.

BoekoeJol sluit boonop op ʼn gepaste manier af met ʼn dankdiens wat deur dr. Arnold Mol gelei word.

Besoek BoekeJol vir die volledige program. Rig navrae aan Dia by 083 726 1180 of info@boekejol.co.za.

BoekejolDeurlopend.jpg BoekeJol Deurlopend2.jpg Boekejol Deurlopend3.jpg BoekejolDeurlopend4.jpg

Gedig: Tafelgebed van ʼn alleenloper

$
0
0

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Lina Spies (Geb. 1939)

Ek leef alleen:
daarom knaag ek soms
soos ʼn grotbewoner
op ʼn been.

Nogtans vra ek op my ete, Heer,
u seën.

Bibi Slippers ‘ʼn fotostaat vol foute en gemaklik daarmee’

$
0
0
Bibi en Gielie

Bibi Slippers en Gielie Hoffman tydens die boekgesprek Vrydag by die Boekejol en Filmrolfees in Pretoria. Foto: Bibi Slippers via Instagram

Leonie Bezuidenhout

Die jong skrywer en digter Bibi Slippers het in ʼn kort tydperk reeds diep letterkundige spore in Afrikaans getrap. Met BA-grade in sowel Beeldende Kunste as Tale, asook ʼn meestersgraad in Kreatiewe Skryfkunde, is sy tans werksaam as joernalis en inhoudsvervaardiger in die televisiebedryf.

Haar eerste digbundel, Fotostaatmasjien, het verlede November op boekrakke landwyd verskyn. Fotostaatmasjien is ook die wenner van die gesogte UJ-prys asook die Elisabeth Eybers-prys én is op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Bibi en die bekende spreker en rubriekskrywer Gielie Hoffman het Vrydag by die Boekejol en Filmrolfees in Pretoria oor Fotostaatmasjien gesels. Sy het vroeër die middag in die Atterbury Teater saam met digters soos Antjie Krog en Andries Bezuidenhout haar skelpienk hoëhakskoene vierkant volgestaan tydens ʼn digmarathon waar dié bekroonde digters hul eie werke voorgelees het.

“Bibi is die hele internet vol,” het ʼn opgewonde Hoffmann voor ʼn vol gehoor gesê. “Ek probeer steeds ʼn greep kry op dié geel tsunami wat die land getref het!”

Bibi vertel dat die bundel die produk was van ses jaar se harde werk tydens die verwerwing van haar meestersgraad aan die Universiteit van Stellenbosch. Die pad om die bundel gereed te kry vir publikasie was nie altyd gelyk nie, vertel sy, en skuif haar eksentrieke geel leesbril op haar fyn gesig.

“Ek het elke oggend opgestaan en gedink my skryfwerk is fantasties en gereed vir publikasie,” spot sy. “En dan het ek leiding ontvang van my dosent, wat selfs soms my aanvanklike gedigte ‘yl’ genoem en gesê het ‘nog nie, nog nie’. Destyds het ek oor sekere kritiek gehuil, maar in retrospek is ek baie dankbaar daarvoor.”

Sy sê dit was eers toe sy ander digters se woorde begin gebruik het, dat sy haar eie stem gevind het. “Ek begin nooit skryf op ʼn skoon, wit bladsy nie. Selfs toe ek kuns studeer het, het ek altyd gevoel ek moet eers ʼn bietjie ink op die skoon papier mors voor ek daarop kon begin teken,” lag sy.

Dit is ironies dat die bladsye in haar boek wat wel spierwit is, beduidend is daarvan dat die gedig kompleet haar eie woorde en gedagtes is. “Hoe meer ek gesteel het by ander digters, hoe gryser en meer gefotostateer lyk die bladsy in die boek,” verduidelik Bibi. Op Hoffmann se grappie dat ander mense dit “plagiaat” sou noem, lag sy en antwoord: “Met steel bedoel ek, my gedig is baie gebaseer op ander digters se werk.”

bibi2

‘Fotostaatmasjien’ pryk op die winkelrakke. Foto: Bibi Slippers via Instagram

Bibi vertel die naam van die bundel sou eers Afskrif heet. “Die reine waarheid is dat ek nog altyd gefassineer is deur fotostate. Ek hou daarvan hoe vinnig en onvolmaak dit is. Toe ek op universiteit was, het ek baie tyd deurgebring in ʼn saal met omtrent 50 fotostaatmasjiene. Ander studente het hulle geld aan drank bestee en ek het fotostate gemaak. Ek het selfs rondgekrap in herwinningsblikke en die mooiste goed daar uitgevis wat ek vandag nog het,” vertel sy geesdriftig.

Hoekom fotostate? “Geen weergawe van ʼn dokument is ooit dieselfde nie. Elke fotostaatmasjien het ʼn fout. Dit het my laat besef dat ek die foute wat as kritiek in my werk aangespreek word, kan omarm en die foute vir my laat werk,” sê Bibi.

Sy en die ontwerper van die uitleg van die boek, Richard Myburgh, het sommige van die gedigte met lang reëls, dwarsoor die bladsye van die boek, gedruk om nie afbreek aan die lengte van die reëls in die gedigte te maak nie. “Ek skuif woorde rond in my gedigte,” verduidelik Bibi.

“Posisies in ʼn reël is belangrik omdat dit aandag trek na die woord aan die begin en aan die einde van die sin. Waar jy ʼn sin afbreek, kan maak dat dit dubbelsinnig raak. Ek hou van daai speletjie. My kamer is nie netjies nie, maar my gedigte is,” lag sy.

Sy vertel “Punt” is die gewildste en oudste gedig wat in die bundel verskyn, en skerts dat aanhangers mal daaroor is om die gedig as aanhaling op Instagram te gebruik. “Ek dink ek was so 20 toe ek dit geskryf het. Dis baie eenvoudig, dis dadelik duidelik wat dit beteken en mense kan hulle in verskillende fases van hulle lewe daarmee vereenselwig.”

Oor haarself is Bibi nie te ernstig nie. “Ek hou daarvan om ernstig te wees oor ʼn lawwigheid. Ek hou van speel en pret hê, maar ek was ook ʼn hoofmeisie,” lag sy. “Mens voer dit net met erns uit, dan lyk dit soos belangrike dinge waarmee jy besig is.”

ek skryf jou af en eindig
ons verhaal met ʼn punt
agter jou naam.
finaal.
 
maar dis altyd so met my
as ek my weer kom kry
is daar nog twee punte by

– “Punt” deur Bibi Slippers

Fotostaatmasjien is by boekhandelaars landwyd te koop of by NB-Uitgewers.

Die Boekejol en Filmrolfees word nog tot 20 Augustus in Pretoria aangebied. Vir meer inligting oor ander gesprekke wat aangebied word, besoek die fees se Facebook-blad.

Gedig: Meidag: Suidelik

$
0
0

Argieffoto (Foto: ulleo, Pixabay)

Zandra Bezuidenhout (Geb. 1945)

Die mis lê laag,
die somer loop in winter oor.

Hoe speel die son
vir oulaas deur ʼn wingerdblaar.

Die wind stoot noord,
die weer slaan om.

Die vlam sit skuinser
teen die horison.

Uit: André P Brink se Groot Verseboek


Gedig: Die woedende brood

$
0
0

Argieffoto (Foto; congerdesign, Pixabay)

Sheila Cussons (1922 – 2004)

Hulle wat brood eet, nie brood metafories
nie, maar brood met olie en sout op,
is nooit soos dan so heel nie, volkome,
soos die vingers wat die brok hou,
die kundige edel vingers van die hand
wat die sweet van die aanskyn wegvee –

Jesus en sy twaalf eet brood,
brood met olie en sout op; Jesus met net
so ʼn mond, sulke hande, geneem uit Maria,
en al wat Hom van hulle onderskei, is in
sy Hart en sy Hart in die Vader, die Gloed
waarin alles ontstaan het: die korrel
koring, die aarde, die brood, die honger
eens heerlik, tot verhongering vermink,
en die Furie en die oorvloedige Bloed.

Gedig: Ek het gaan soek na my eie hart

$
0
0

Argieffoto (Foto: castleguard, Pixabay)

Ingrid Jonker (1933 – 1965)

Ek het gaan soek na my eie hart
en lank nadat ek verdwaal het
in die dae wat verbytrek met hul lower
in die lug blou van verte en afsydigheid
het ek gedink dat ek my hart sou vind
waar ek jou oë die twee bruin vlinders
gehou het en ek het die swalu sien opvlieg
en skaduwees spreeus

Gedig: Bestaansreg

$
0
0

Argieffoto

Rosa Keet (Geb. 1945)

Daar staan hy op die vloer
ʼn groen stoel.
Tevrede om sy gegewe spasie
te vul.
Streef na niks meer as stoelwees nie.
Hardloop nie rond
op soek na bevrediging
of ondervinding
of kommunikasie nie.
Staan solied
bestaan
gelykstaande
(binne perke)
aan oneindigheid.
Reg om sy funksie
as stoel te vervul
reg om oop
en ontvanklik te wees.

Reg vir besit.

Uit: Groot Verseboek deur AP Brink

Hier is die wenners van die Boekejol-digkompetisie!

$
0
0
digkuns_kompetisie_skootrekenaar_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Dié jaar se BoekeJol- en FilmRolfees het met ʼn heerlike digkunskompetisie afgeskop.

BoekeJol en Maroela Media het aan elkeen vanaf 13 jaar oud die geleentheid gegee om hul digvernuf met ons te deel. “In ʼn gedig kan elke individu uiting gee aan hul gevoelens, gedagtes en leefwêreld,” sê Dia van Staden, organiseerder van die BoekeJol- en FilmRolfees.

Die BoekeJol- en FilmRolfees het vanjaar van 16 tot 20 Augustus by Lynnwood Bridge in Lynnwood, Pretoria plaasgevind.

Die beoordelaarspaneel was die bekroonde digter Bibi Slippers, omroeper en mede-aanbieder van die Groot Ontbyt op kykNET Su-an Müller-Marais, en uitvoerende hoof van Maroela Media Susan Lombaard.

Deelnemers kon oor drie temas skryf, naamlik Hier, Huppel en hop en Skokgolwe.

Die wenner van die kompetisie is Alida Marais (44), ʼn datakontroleur van Pretoria, met haar gedig Midde (ons) winter. “Jy het sopas my dag en maand gemaak!” het sy vrolik gesê toe Maroela die nuus aan haar oorgedra het. Alida het sewe jaar gelede, ná haar ma se afsterwe begin skryf en sy werk reeds aan haar vierde digbundel. “Vandag ek begin skryf het, het die woorde nog nooit weer opgedroog nie.” Sy stap weg met prysgeld van R3 000.

Midde (ons) winter
Deur Alida Marais

hiér waar jy donkerkolle gelos ‘t
en soveel nikssê’s tussen ons
bid ek vir son oor jou skouers
want jy raak my steeds
jy raak my soos stiltes en stukkendwees
en selfs tussen vlae verkluim
bly ek dink aan jou soos vlamme en fynhout
en die kleur van somers
want jy roer my nog
jy roer my soos iets wat opwel en oorloop
en van vooraf neig na die flonker van vergifnis

Die tweedepryswenner is Odette Karsten (19) van Rietbron in die Wes-Kaap met haar gedig, ʼn Vuur vol kastaiings. Sy ontvang R2 000 vir haar skryfwerk.

‘n Vuur vol kastaiings
Deur Odette Karsten

Blits, bliksemstrale, vuur en vlam
onverwags het die geknetter die aardkors verpletter.
Soos blits met sekondes oor vele hektaar versprei,
vele lewens gekos van held en redder.

Radiogolwe, kassiekanale en koerant het basuin,
hoe daar naby Fiela se bos ‘n landskap verdwyn.
‘n Ashoop waar eens ‘n dosyn kamers was,
‘n hoop herinneringe nou net verkoolde as.

Heinde en verre is harte geopen,
om ‘n hand uit te reik na dier en mens.
Baie het niks, baie het iets,
veel het hul geboortedag verwens.

‘n Golf gruwelike vlamme het ‘n landskap verwoes,
‘n Nasie bymekaargebring en omgee geoes.

Die derdepryswenner is Elsabé Pienaar (44) van Colesberg in die Noord-Kaap. Sy ontvang R1 000 vir haar gedig, Richterskaal.

Richterskaal
Deur Elsabé Pienaar

In die naskok van die groot gerammel
Tril die grond met tussenposes
En kos dit ekstra myl se loop
Om die bloed van die grond
Áf te bid
Lengtegraad en breedtegraad verskuif, so ook koördinaat
En in verwarring, vertwyfeling
In die bewing van die chaos
Word hoeksteen en ankerpaal
weer ‘n baken van hoop
Terwyl die sekretarisvoël ongestoord
Oor gebreekte klippe loop.

 

Gedig: Oud word

$
0
0

Argieffoto (Foto: harutmovsisyan, Pixabay)

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

Al noem hulle dit geseënde en gesonde
afronding van volvoerde strewe jy
sal sikkeneurig word en sleurgebonde
met yl gebare al hoe dieper gly

murmelgeluidjies uit op onervare
toetsende voete skuifelend bedees
en skigtig om jou rondkyk en as ‘t ware
jou maagdelike herrese tante wees

met onvervalste dwaasheid toegerus
tot ingewyde dagdrome in staat
wat jy verbloem: hardnekkig ongeblus
bring hul beroering troos en doen geen kwaad.

Traagheid verleen ʼn skamele houvas.
Wees bly dat aangebore onvermoë
uiteindelik by jou nuwe status pas.
Jou kinders kyk nou toe sonder misnoeë.

Die sparteling hoe halfhartig ook bevat
genoeg teater om jou te laat lag
die oorgeblewe weerstand weg te glad.
wie laaste lag lag roekeloos en sag.

[Foto’s] Hantam-Karoo-gedig raak duisende harte

$
0
0

Ouma Any (Foto: Nakkie/Liezel van Wyk)

Verlede jaar toe die Hantam-Karoo onder erge droogte gebuk gegaan het, was Ouma Any (86) – ʼn jarelange inwoner van dié dorp – op haar knieë gedwing. Sy het haar hande saamgevou en gebid dat die Jirre die reën moet stuur sodat die droë vlaktes kon reën kry en die diere kon water drink en die blomme kon groei.

Dié reën het nóg nie gekom nie; om die waarheid te sê, die Hantam-Karoo het vanjaar nog net sowat 35 mm reën gehad en die mense van dié omgewing is daagliks op hul knieë om te smeek vir reën.

Liezel (Nakkie) van Wyk, ʼn inwoner van dié omgewing, vertel sy het verlede jaar ʼn foto van Ouma Any geneem terwyl sy besig was om te bid vir reën.

Toe ʼn vriendin haar onlangs ʼn gedig –  ʼn smeekgebed vir reën – gee, het sy dié gedig in ʼn Hantam Karoo-idioom herskryf omdat die inwoners van die distrik die droogte én die moedeloosheid wat daarmee gepaard gaan goed ken.

Van Wyk het dié gedig op sosiale media gedeel, waarna dit soos ʼn veldbrand versprei het.

“Ouma Any se gesig en die feit dat sy gebid het vir reën het vir my baie goed saam met die gedig gewerk – die twee gaan hand aand hand. Dit is waarom ek dit die Hantam Karoo-weergawe genoem het, aangesien Ouma Any deel is van die plaas waar ons tans onder ʼn erge droogte gebuk gaan.

“Dit was laas in 1960 so droog soos nou. Daardie jaar het die plaas 27 mm reën gehad en ons het vanjaar die hele jaar nog net 35 mm reën gehad. Die skape moet daagliks gevoer word, so hierdie gedig dra swaar in ons harte en ons weet wat droogte is,” vertel sy.

Dit is nie bekend wie die oorspronklike skrywer van die gedig is nie.

Hiermee die Hantam-Karoo-gedig:

Ouma Any van Gannabos bid vir reent
More my Jirre,
Vandag is ou Any vroeg op;
ek sien daar ver agter die berg
kom wys die son sy kop.
Die vlaktes is droog
dit soek water, my Jirre,
die son brand
daar op my draad se klere.
My Jirre, die laaste reent
het vir Any trane gebring,
maar ek het weer opgebou
en my hart het aanhou sing.
Die land bid vir reent,
die boere kry swaar.
Jirre, skud daai hemel
dat die reent neer kan daal!
My Jirre, die son brand
hard op die droe aare,
maar ou Any, my Jirre,
sy maak nie besware.
Sy los die werke van die groot Man
in sy eie hande,
maar ou Any bid saam die boere
vir bietjie water vir hul lande.
Seën ons boere, my Jirre,
en seën hierdie land;
doen U die werk daarbo
en ou Any sal bid aan hierie kant.

Ouma Any (Foto: Nakkie/Liezel van Wyk)

Die droogte in die Hantam-Karoo (Foto: Nakkie/Liezel van Wyk)

Die droogte in die Hantam-Karoo (Foto: Nakkie/Liezel van Wyk)

Gedig: Die veles

$
0
0

Argieffoto (Foto: stux, Pixabay)

SV Petersen (1914 – 1987)

Hulle leef op skuld
tot Vrydagaand,
en tot die einde van die maand;

Gaan goed gekleed, soos wie weet wie –
trakteer mekaar op simpatie;

Ontspan by voorkeur
in die fliek,
dans dol op radiomusiek;

Sing luidkeels Sondae in die kerk,
vloek roekeloos Maandae by die werk;

Doen siektes op,
en word gesond –
gaan tog maar môre weer te grond;

Teel kleingoed by die tros, en stort
gʼn traan oor wat van hulle word!

Die jare gaan,
die jare kom;
hulle mors die Tien Gebooie om –

Trek kort op sestig pensioen,
en raak met God en mens versoen.


Gedig: Die dubbele nie

$
0
0

Argieffoto (Foto: Matvevna, Pixabay)

Joan Hambidge (Geb. 1956)

Ons praat nie meer
met mekaar nie. Ons hoor mekaar
nie meer nie. Ons sien mekaar
nie meer nie. Ons is nie meer
ʼn item nie. Ons is nie meer
saam nie. Ons skryf nie meer
vir mekaar nie. Ons voel mekaar
nie meer aan nie. Ons is nie meer
aan nie. Ons is nie meer in nie.
Ons is ʼn nie-nie. Nooit weer
nie. Nie weer nie. Ag nee!
My muse, my geliefde
verlaat my, stadig maar seker.
Waarskynlik oor die dubbel nie.

Gedig: Vertel

$
0
0

Argieffoto (Foto: Pavlofox, Pixabay)

Heilna du Plooy (Geb. 1947)

Kon ek net een maal ʼn verhaal vertel
wat soos ʼn laatnagkool
sal gloei van deernis vir die wêreld –
dan sou ek gelukkig wees.

En as die gloed waarmee die kool
tot diep in die geheimste plekke brand
die koue mense kon verwarm –
dan sou ek gelukkig wees.

Maar as dit kon gebeur
voordat die kool se rooi en swart
in fyn wit as tot niks verwaai –
dan sou ek inderdaad gelukkig wees.

Gedig: my oupa

$
0
0

Argieffoto (Foto: Stocksnap, Pixabay)

Lara van der Merwe, in graad 11 aan die Hoërskool Durbanville, het dié gedig aan haar oupa Frik geskryf, ʼn mielieboer van Mpumalanga. – Red

my oupa

my oupa is meer as net ʼn mielieboer,
meer as net ʼn Isuzu en ʼn two-tone boerehemp.
daar is meer aan die Camel Lights tussen die vingers,
meer aan die bultende padkaarte op sy hande.

sy storie-vertel humor oor ʼn klinkende vuil coke,
die droë grappies wat hy uit sy kêps ruk en
hoe sy wakker kop nog rusteloos dwaal vir avontuur,
is alles wat oupa, óúpa maak.

hy maak musiek – ons eie one-man band –
en hou van lime milkshakes en oxtail-kerrie.
hy vat gat, hy speel saam, hy lag en sy tande blink.
en soms, wanneer hy vroegoggend koffie skink,
sit hy kamstig soos ʼn oumens
oor die lewe en dink.

my oupa ‘ly lof’ oor grondpaaie, hy druk
blou note in jou gatsak en koop swiets as ouma
nie kyk nie. sy hande; altyd van de grease.
allewig besig om iets reg te maak,
en om soos ʼn vreeslose arend
oor sy familie te waak.

hy is ʼn liefdevolle boerboel in ʼn wêreld vol
windmakerige jack russels.

hy is meer as net ʼn mielieboer,
hy is oupa frik vir wie ek so lief is.

hy is my oupa.

Gedig: Woordeboer

$
0
0

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Oskar Prozesky (Geb. 1947)

My pa se plaas was Nooitgekaart
En my ma se deel die wind wat waai;
Noord, oos, suid, wes, soos die weerhaan draai,
Het my oupa met ʼn engel baken gery
En die hele liewe wêreld in erfpag gekry.

En ek is die boer van Soekgeluk
En die baas van Swaar- en Lekkerkry,
En die lewe is vir my ʼn storieboek
En my beeskraal is my boekery.

En dag na dag van vroeg tot laat
Woeker ek agter my ploeg en pen,
Bewerk papier en saai woordsaad.

Woord: kollega

$
0
0

Argieffoto (Foto: Free-Photos, Pixabay)

Woord:
kollega

Betekenis:
iemand wat saam met jou werk of dieselfde beroep beoefen

Waar kom dit vandaan?
Die lewe laat ʼn mens gewoonlik nie toe om jou medewerkers te kies nie, maar dit is wat kollega beteken (Latyn collega uit com “saam” + leg- uit legare “kies”), dus “iemand wat gekies is om saam met iemand anders te werk”.

Dié taalbrokkie is oorspronklik gepubliseer in dr Anton Prinsloo se boek, ‘n Dief aan die Kers – skelm woorde deur die eeue (uitgegee deur NB Uitgewers)
Koop die boek by Graffiti Boeke
Prys: R225-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Viewing all 691 articles
Browse latest View live