Quantcast
Channel: Gedigte | Maroela Media
Viewing all 691 articles
Browse latest View live

Gedig: Oulaas

$
0
0
Foto: Corbis Flirt / Alamy/Alamy

Foto: Corbis Flirt / Alamy/Alamy

Charles Fryer (Geb. 1946)

Dis oulaas stap, Pa:
jy in die middel en ons,
stram in kispakke,
maar regop, jóú seuns,
elk aan ʼn handvatsel.

Dis half swaar, Pa.

Ons is gewoond saamstap
en die suidewind
is bitterbos en reën.

Voor die kampie op die bult
wag die volk
om vir Pa te sing,
hul gesigte dobberend in die middagson.

Pa het dié tyd
altyd
ʼn bietjie gaan skuinslê.

-Calvinia, 1970


Gedig: Tuinmaak

$
0
0
Argieffoto (Foto: Skitterphoto, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Skitterphoto, Pixabay)

Marius Titus (Geb. 1946)

Om in ons township
tuin te maak,
is ʼn matter van ʼn
hartseer saak.
Om te begin het ek getraai
om my kruiwa vol moet mis te laai.

(Daar by ons local soerries)

Daai oomblik pla my conscience min
wat ek hét mos ʼn share daarin
Common sense was nie genoeg
en die fine was nogal blêrrie hoeg.

Volgende keer, as my dikderm pyn,
gaan sit ek in my eie tyn.

Gedig: Lied van die somerboom

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Linda Roos (Geb. 1959)

wat se pronkbok bot my netvlies vol sommerso
in die straat: haar polse klingel groen
geluidjies teen die wolke en haar heupe wieg
in die wind: in haar armholtes woon
wonderlike gevlerkte wesens
en guitig giggel sy – die lug
bars borrelgroen vol blare

o haar oog is skugtig gesluier maar netnou
toe wind vingergroen in haar vol lyf roer
het ek in ʼn oogwink gewaar: onbeskaamd
in dié blink pupil spieël die somer haar

Gedig: Ode aan die deur

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Louis Esterhuizen (Geb. 1955)

By die ingang, uitgang, sygang –
oraloor, by die voorkant
in, sydelings of agter uit, as toegang
tot al die ruimtes van gang:
die deur.

En die deur open op vertrekke
wat uitloop op die oopgelate deure
van agterkamers en ons loop
deur deure van hout, staal of glas –
enkeldeure, dubbeldeure, skuifdeure
of geheime deure, verbode deure
sonder sleutel of greep.

Uiteindelik, wanneer die stok
daarteen tik, die deur aan die bopunt
wat oopkraak, die deur van jou
drom, die deur wat almal vrylaat
die deur wat inperk, toesluit, bewaar –
gegraveerde deure, toegespykerde deure
traliehekke (deursigtig soos deure).
Aan die einde van die tyd
die deur

oopgelaat vir die nag
om sterre binne te laat, die deur
wat van jóú ʼn deur maak, smal of wyd.
En ek loop jou deur of loop
deur jou na die oorkant, anderkant

dit wat moontlik is verby –
my oomblik met jou in hierdie
tydskarnier

wat uiteraard eensaam is.
Soos ʼn deur.

Gedig: Huiskat

$
0
0
Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

Die kat strek hoog op vier strak bene, buig
behaaglik om haar luiperdlies te lek,
rol om en lê fluwelig oopgevlek
dat keel en bors en buik die son kan suig.

Ons noem haar “kat” want sy is sonder siel
en anoniem. Smal skerwe van agaat
staar koud uit die driehoekige gelaat.
Arglistig, vloeibaar, soos ʼn blink reptiel

van los en lenig wees versadig: sy
sal nooit – die veearts het haar “reggemaak” –
ekstase en angs van lewe voortbring smaak,
sal, steeds eenselwig, alle teerheid stuit.
Ek hol my hand behoedsaam, smalend sluit
sy haar oë kronkel by my greep verby.

Gedig: Skulpkennis

$
0
0
Argieffoto (Foto: monicore, Pixabay)

Argieffoto (Foto: monicore, Pixabay)

Ernst van Heerden (1916 – 1997)

Ek tel ʼn skulp op in die sand
wat in my oor sy boodskap sis:
die aarde en sy skepsels het verdwyn –
ál wat bestaan, is see en vis.

Die ondergolfse ryke suis
oor seelui wat óm wrakke wroet,
as bleek skelette soek hul voort
na hartklop in die eb en vloed.

Mar as ek deur die onderwaterlig
my van sy vlegsels kan ontgord,
sal ek met slierte sandkruid dans,
klein grondeling van die walvis word.

Want teen die skulp se rondings ruis
ʼn vreemde taal se vreemde spreuk –
uit wrak en water hierdie oerbegrip:
die eie hart wat teen my ore beuk.

Gedig: Meisie 1

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Piet van Rooyen (Geb. 1953)

Kraaitjie Melaaitjie, my liefste ding,
hoe moet ek maak met die tingeling,
die boem en die dwa en die tromborsklop,
hoe moet ek maak met die ligtekop?

Kraaitjie Melaaitjie, wat moet ek sê,
as die dinge hier teen my hart kom lê,
hoe moet ek stertgooi, hoe moet ek draai,
as jou hare al voor my oë waai?

Carolina Melanie, my keel trek styf
en ʼn rimpelvel hardloop al oor my lyf,
hoe moet ek praat, wat moet ek sê
as die swaarheid plat op my tong kom lê?

Toonsetting van die gedig deur Herman van den Berg:

Gedig: Sproeireën

$
0
0
Foto: Vika04, Pixabay

Foto: Vika04, Pixabay

DJ Opperman (1914 – 1985)

My nooi is in ʼn nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand… iemand in anys,
daar’s ʼn vrou in elke geur!

As ek ʼn stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met die nartjies om my heen
weet ek hoe dit ʼn vrou kan troos.

O my nooi is in ʼn nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand… iemand in anys,
daar’s ʼn vrou in elke geur!


Gedig: Maria

$
0
0
Argieffoto Foto: "Nativity tree 2011" deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Argieffoto Foto: “Nativity tree 2011″ deur Jeff Weese, Flickr via Wikimedia Commons

Elisabeth Eybers (1915 – 2007)

ʼn Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap – en jy het
ʼn lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!

Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink eenmaal sou hý
die hele wêreldskande dra?

Toe jy soms met ʼn glimlag langs
jou liggaam stryk… die stilte instaar…
wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hý sy hellevaart aanvaar?

Die nag daar in die stal – geeneen
om in jou nood by jou te staan –
het jy geweet dat hy alléén
Getsemane sou binnegaan?

Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon,
wis jy hoe die soldate hom
tot koning van die volk sou kroon?

En toe hy in jou arms lê,
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê
toe dit te laat was: Ek het dors!

Toe dit verby was en jy met
sy vriend Johannes huis toe gaan –
Maria, vrou van smarte, het
jy tóé die boodskap goed verstaan?

Gedig: Protes teen Kersfees

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Lina Spies (Geb. 1939)

Ek gaan my koes hou
hierdie Kersfees:
horende doof vir “Stille nag”
in supermarkte,
siende blind vir wattesneeu
teen vensterrame.
die sluipende ou heer met sy rooi mantel
en wit baard gaan ek vermy.

Ek gaan na ons nagtelike somerhemel kyk
en my voorstel hoe het die ster
bokant die stal gelyk.
Ek gaan my ore toestop
vir die geklingel van sleeklokkies
om te kan luister hoe die engele sing.

Ek wil my vasklem aan die krip
omdat ek so kan vasgryp aan die kruis:
koningshulde – wierook, mirre, goud –
uiteindelike geselslae, doringkroon, vloekhout.

(Uit: Die skaduwee van die son, deur Lina Spies)

Gedig: Somerkersfees

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Koos du Plessis (1945 -1984) en Jannie du Toit (Geb. 1951)

Welkom o stille nag van vrede,
Onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die ou verlede
Oor sterrevelde ruis.
Kersfees kom, Kersfees kom
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

Hoor jy hoe sag die klokke beier
In eeue-oue taal
Kyk, selfs die nagtelike swye
Vertel die ou verhaal
Kersfees kom, Kersfees kom
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

Voel jy ook nou sy warm liefde
As ons die dag gedenk
Toe Hy sy Seun vir ons gegee het –
Ons grootste kersgeskenk
Christus kom, Christus kom
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer

Gedig: Kindertuin

$
0
0
Argieffoto (Foto: Anerma, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Anerma, Pixabay)

Zandra Bezuidenhout (Geb. 1945)

Uit: Briewe aan my moeder
3. Kindertuin

ek was ʼn kind van twee
toe jy my leer hoe name trommel
teen die binne-oor
vi-ool-tjie py-pie bot-ter-blom
het jy geklank
kal-koen-tjie bob-be-jaan-tjie
met die tong gedoop
jy wou dat ek die woorde proe
geluid van gousblom ken
wat opslaan in September

terwyl jy buk en pluk
het ek die bossie vasgehou
gedink dat blomme orals was
soos gras en wind
jy’t van die veld vertel
kransies uit jou kindertyd gevleg
en om my nek gehang vir later
gewys hoe mens die sterre
aan jou polse bind

jy het die taal in blom
help bêre op my tong
sodat ek sou onthou
tjien-ke-rien-tjee se oog is swart
of lente is ʼn liggeel suringlap
varklelies staan in room en groen-
poeierwysters van die ver verlang
na ma’s wat afbuk in die son

Uit: André P Brink, Groot Verseboek Deel 3

Gedig: Gebed van die loot aan die wynstok

$
0
0
Argieffoto (Foto: jill111, Pixabay)

Argieffoto (Foto: jill111, Pixabay)

Sheila Cussons (1922 – 2004)

Solank as wat die mens
sy gewaarwordinge in taal bly formuleer
Here, laat my taal leef
en dat U hom nooit van die liggaam
van Afrika sal amputeer nie –
en waar U moet terugsnoei, Heer,
laat ons u hand herken en rustig weet
U sal uit die vurige sap
wat U nou tot besinning kasty
iets wat helder en edel is eindelik distilleer.

Uit: André P Brink, Groot Verseboek Deel I

Gedig: Elementêre huis

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

DPM Botes (Geb. 1935 – 2013)

ek wil graag vir jou ‘n huis bou
‘n huis nie ‘n woning nie ‘n woning is te deftig nee ‘n huis

met vier mure
met ‘n rooi dak
met ‘n rokende skoorsteen

‘n huis sonder deure
‘n huis sonder vensters
ons sal die wêreld buite hou
so ‘n huis

‘n huis waarin net ons sal wees
net ek en jy
niemand anders nie
niemand nie

ek sal vir jou ‘n huis gee
ons sal vergeet van baie dinge
van lewe van dood van verwoesting
dat bestaan daarbuite moontlik mag wees

ek wil vir jou ‘n huis bou
‘n huis sodat ons kan vergeet
‘n plek iewers tussen die planete
waarin ons mekaar dae en nagte kan op

Gedig: Vergewe en vergeet

$
0
0
Argieffoto (SouthAfrica.net)

Argieffoto (SouthAfrica.net)

Totius (1877 – 1953)

Daar het ʼn doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges
ʼn ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

“Jy het mos, doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”

Die ossewa verdwyn weer
agter ʼn heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis –
net een plek bly ʼn teken
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.


Gedig: Rosa Rosarum

$
0
0
Argieffoto (Foto: Hans, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Hans, Pixabay)

AG Visser (1878 – 1929)

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag.

Kom in die soel someraande en luister
– Wanneer die nagwind hul drome verklaar –
Na die veelvuldige blommegefluister,
Bloesem en bloeisel en blad altegaar!

Kom waar die lelie – die blanke, die reine –
Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,
Blou miosotis – die slanke, die kleine –
Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.

Kom as die maanblom – wit sy en satyne –
As ʼn vorstinne verskyn in haar prag
Onder die wierook van roos en jasmyne –
Skoonste juweel op die bors van die nag!

Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –
As sy in glorie van songloed verwelk.

Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange
Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;
Saans koer die tortel sy lied van verlange
Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin.

Kom in die aand en geniet van haar geure:
Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;
Kom in die môre en kies van haar kleure:
Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!

Kom as dit skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

Gedig: Die huis waar ek woon

$
0
0
Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

William Rowland

my huis het tien vensters en twee deure
wat honger hande na die wêreld reik
en binne woon daar twee verbanne geeste wat saam
die dag en die nag tot ʼn bitter heuning meng
en as broers die gekraakte spieël bepeins

die een wat die nagwaak waarneem
is ‘n heilige wat gevaarlike ure opeet
want snags is die tuin om my huis ʼn geriffelde bladsy
waar woorde onheilspellend ritsel
en vreemde ideologieë bekoor
soos gebreekte blomme wat die naglug
met hul doodsgeur poeier

maar bedags – ja bedags is dit anders
as die môreklanke soos skoenlappers geel klokkies wegvlieg
dan is die voëls dartelende sirkels
wat sing omdat die son hulle hart stukkend kap
– al is die struike se gesigte natgehuil

ek moet onthou:
elke dag is ‘n ronde blou klippie
wat ‘n seuntjie soos ‘n juweel in sy sak vertroetel

o, ek wens ek kon die blare se musiek volledig betas
of die donderende see met my tong besoek
of die blou lug in my handpalm hou

maar ek is ‘n paradysvoël
in ‘n koperkou sonder sleutel
ek speel op my silwerfluit
maar net my note sal die sagte reëndruppels sien.

(William Rowland. Tafelberg, 1974.)

Gedig: Blomme

$
0
0
Argieffoto (Foto: moonsnjunes.wordpress.com)

Argieffoto (Foto: moonsnjunes.wordpress.com)

Piet van Rooyen (Geb. 1953)

ek koop vir jou drie blommetjiesjeans
in ʼn apostoliese winkel
tussen potte, sandale en wierook
ʼn ronald sassoon, ʼn sissy boy
en ʼn tweedehandse liberto
nogal ingevoer uit Spanje
vol kleure: bloubont, pienkbont en oranje

jou nommergrootte het my ontgaan
ek moet dit met die oë skat
die lengte meet ek langs myself
ek weet tog waar jy teen my staan
as ek die middel in my vingers vat
vryf-voel ek jou daarin

die aand allenig in my kamer
dink ek reeds aan die gee
ek haal hulle uit die inkopiesak
en hang dit oor my stoel

dan kyk ek na die blomme
en verbeel dit aan jou lyf
hoe knus dit aan jou bene kleef
en as ek jou die naweek soen
het ek jou reeds die week geleef

Gedig: Vertel

$
0
0
Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Unsplash, Pixabay)

Heilna du Plooy (Geb. 1947)

Kon ek net een maal ʼn verhaal vertel
wat soos ʼn laatnagkool
sal gloei van deernis vir die wêreld –
dan sou ek gelukkig wees.

En as die gloed waarmee die kool
tot diep in die geheimste plekke brand
die koue mense kon verwarm –
dan sou ek gelukkig wees.

Maar as dit kon gebeur
voordat die kool se rooi en swart
in fyn wit as tot niks verwaai –
dan sou ek inderdaad gelukkig wees.

Uit: Groot Verseboek Deel 3, Tafelberg

Gedig: Bosveld

$
0
0
Argieffoto (Maroelaboom)

Argieffoto (Maroelaboom)

Ingrid Jonker (1933 – 1965)

Ek het altyd verdwaal
op al die voetpaadjies, maroela
Jy is altyd herhaal in die kring

Gesang vol voëls
Groen vol blare
Of winter, maroela

Ek sal jou altyd herken
op al die littekens

Viewing all 691 articles
Browse latest View live